Saturday, September 12, 2009

Wat dan van vra?


Vrede oor vra
Ek het vrede oor vra, ja, vrede oor vra
Weg is wanhoop, weg is skuld, weg is skaam
Al wat oor is, dié leemte wat vra kan volmaak
Vra is nou meer as bloot net ‘n versoek
Dis die begin van volword, heelword, gesondword, eenword…

Miskien mag kwaad en wantrou weer probeer,
maar dan mag ek ook aanhou vra!
Met smeek, en soebat, en leegmaak van my siel
soms met vreugde, soms met pyn, soms met hartseer
En steeds sal ek aanhou vra

Altyd met vrede, diep hier binne my ‘n rustigheid, want
Ek het vrede, ja, vrede oor vra

Wednesday, September 9, 2009

Tussen die kroes en die broodsakkie.

Hier is ek dan nou “op die vloer neer gegooi, maar nie dood nie.” Die dag na ek besluit het ek veg terug, vat ek die ystersaag om die plastiek pypie vir die fontuin se elektriese kabeltjie korter te saag. Met die derde of vierde stoot van die saag, slag ek weer ‘n bokkie voor die voordeur. Ek word gesmelt in die kroes. Ek word in die broodsakkie rondgeslinger en my eie honde lek my rooi krummels van die gras af op. Ek spartel met die dood en fyftien minute later is ek valer as vroër, maar soek humor in die situasie.

By Millpark ongevalle kyk mense my half ongelowig aan en vra of ek vantevore al neusbloei gehad het. Ek moet dwing om myself in te hou en my stygende bloedruk laat die rooi vulkaan weer oopgaan. Skielik kry al dertig mense in die ongevalle almal gelyk lewe. Skielik word my vrou uitgestuur want daar is kwansuis nie nou plek vir haar nie. Skielik is ek redelik moerig. Ek wil my vrou by my hê, ons is een dis waar sy hoort!

In ACU is dit weer so. Nee jou vrou mag nie hier bly nie. Ek vra haar wat sy sou doen as dit haar man was en sy nie weet hoeveel tyd sy nog het nie. Die dokter sê: "sy! sy sal nooit trou nie." Hulle het vir haar ‘n gemakstoel nader gebring. Die volgende dag vra die dokter hoe Marlene in haar kingsize geslaap het? Dankie dokter. Ons waardeur jou hulp, humor en jou insig.

Die ander dokter vertel vannaand vir ons hoe sy oor die foon, terwyl sy met Marlene in gesprek was, gehoor het hoe ek hulle in ongevalle beveel om my ‘n Vit K inspuiting te gee – “Nou!” Wat is dit met my? Altyd gereed vir kortvat. Seker dié dat ek so gemaal en geswaai word.

Dankie Here vir die mense op my lewens pad. Die baie spesiaale dokters, die vriende hier naby, die bidders, die biddende tuinman, die ongevalle personeel, die ACU personeel, my vriende van daar vêr in Gonubie, ons vriende hier op die plaas, my pragtige vrou.

Tuesday, September 8, 2009

Die erts word weer gebreek

Gister was sleg, dit het mooi begin en toe begin ek sukkel. Ek sukkel die hele dag met werk en rekenaar goed wat nie reg kom nie en toe ek moeg gesukkel is bel my pa om my te vertel dat ek alweer ‘n bees verloor het. Dis een van my stoet verse, swaar dragtig met haar eerste kalf by Seun, die gewese stoet bul. Dis nooit lekker as jou diere vrek nie, en nog minder lekker as jy hoor haar nek is gebreek. Hoe de donder ? My Susex projek het liederlik gevaal en ek hou my tans besig met goed waarvan ek die slag nie meer het nie. Dae soos gister voel dit of iemand my aan my arm beet het en rond slinger, sommer net omdat hy kan, vir die lekker… Ek het so moeg gevoel. Gistraand besluit ek ek gaan terug veg en drink ‘n halwe bottel Metador Arabies Mocha, ek sit en wag om dronk te word, maar niks gebeur nie. Ek gaan later lê, voel effe benoud, staan op, staan so minuut by die oop venster, wag vir die dronk om my te vat…niks. Al die pille en medisyne en baie koffie drink het seker iets soos ‘n teengif vir Metador gevorm. Ek speel tetris en slaap. Tussen 2 en 3 van oggend word ek wakker, hartseer en berouvol oor my gedagtes, my hardkoppigheid. Ek wil so graag sê ek boer, maar ek boer nie meer nie, iemand boer vir my. Ek wil so graag se ek werk, is iets, maar ek val uit die bus, ek is nie daar vir my kliente, kan hul nie eens in die oë kyk, is nie daar vir my vennoot. Die pyp in my neus maak my neus en ore seer. Die kroes is warm en dis geen grap nie. Ek worstel lank voor ek vrede kry en verder slaap. More sal dit seker beter gaan.

Sunday, September 6, 2009

Akzento bo!


So stop hier nou die dag uit die bloute ‘n trok voor die huis en die manne laai ‘n klip pilaar hier by ons af, met “Die nonnie Natie stuur vir julle.” (Die ou fontein voor die huis het die vorige winter of iewers gebars toe die water in die klip gevries het.) Saam met die pilaar word ‘n pompie vir die fontein en die afrondings klippe ook afgelaai.

Vrydag bel ek om dankie te sê, maar kon toe slegs ‘n boodskap los. Later bel Natie terug en vra of die fontein al spuit. Ek maak verskoning met - wou dit eers mooi maak?? Marlene en ek het toe gister die nodige gedoen. Toe leer ek weer twee dinge: Alles hoef nie altyd perfek te wees om volmaak te wees nie. En. Die klank van lopende water het ‘n strelende en kalmerende effek. Dankie Natie vir die groot geskenk. Dankie vir die span by Akzento vir die aflewering en staanmaak.

Nefie Loop!

Oom Hennie van Solms van Komga het twee dogters gehad. Die een bruin hare en blou oë en die jonger een, ligte hare en oor haar oë is ek nie seker nie. Ek was in die sondag skool klas net tussen die twee, die een ouer en die ander ‘n jaar jonger as ek. Ek het omtrent in die tyd eendag by my pa gehoor dat hulle in die “ou dae” beeste aangejaag het Komga toe, dan het hulle op Uitkyk oornag. Dis ‘n stywe ent se loop, vra die soldate wat ook in die tagtiger jare patrollies en “vasbyt” in die omgewing gestap het.

Ons bure se familie het ‘n seun gehad wie saam met die jonger van oom Hennie se dogters op skool was. Ek dink hy het sy ogie op die jongste gehad. Een vakansie het die nefie by my kom wonder en vis of mens nie veldlangs sou kon loop Komga toe nie. Ek was daardie dae baie lief vir uitdagings en het al ‘n keer of wat in Uitkyk se rigting geloop. As hy wou gaan is dit reg met my, ek sou hom vat. Ek dink hy het gedink dis kort pad, ek het ook gedink dis korter as die 42km grondpad.

Ons het toe die datum afgespreek en die nodige beplanning gedoen. Van die plaas af lyk Uitkyk sommer ver, maar Komga is nog verder van Uitkyk as Uitkyk van die plaas. Ek dink ons het bereken daar sou nog kuier tyd ook wees as ons vroeg Saterdag in die pad val. Daardie dag het ons geloop! Ek sal dit nooit vergeet nie. Toe ons die diep klowe noord van Uitkyk insak besef ek wat die term “dooie grond” beteken. Dis iets soos ‘n verrassing, ‘n baie onaangename een… Ek en die nefie het ons flenters geloop om by daardie van Solms dogters te gaan kuier.

Tot vandag toe weet ek nie of die van Solms dogters van ons stappie bewus was nie. Een ding is seker, hulle het nie ‘n idee wat die nefie moes deurmaak vir daardie kort en moeisame besoekie. Terwyl die skoolmaats gekuier het, het ek gelê en Desperado kyk. Ek dink dit was ‘n fliek oor ‘n eensaam cowboy…

My pa het ons die volgende dag na kerk huistoe geneem, ons bene was te seer om terug te loop.