Monday, April 12, 2010

Hier kom die ape!...Nee, mense!!

Met groot versigtigheid wil ek hier loop.
Ek hoor die afgelope week baie gesprek in die media oor evolusie en die Bybel en hoe die twee bymekaar gebring word deur sommige en hoe ander weer heel afsydig staan en reken dis onmoontlik. Vir sommige is daar grys areas en vir ander net wit of swart. En in die middel staan Christen wetenskaplikes. Ek is ‘n leek. Ek het al die Bybel deur gelees en weer hier en daar en sommige stukke oor en oor en seker in my kort lewe meer as een keer daar deur. Ek lees van Hemelwesens wat kinders by mense gehad het – die sogenaamde “reuse”. Ek lees van Metusaleg wie 969 jaar oud geword het. Ek lees die skeppings verhaal van ses dae als gemaak en sewende dag gerus. Ek lees van 1000 jaar soos een dag en een dag soos ‘n duisend jaar, ek lees van Egipte – toe Egipte geheers het, die Babiloniese Ryk – toe hulle geheers het, die Romeine – toe hulle geheers het. En so tussen dit alles deur lees ek van ‘n volk en uit daai volk, wie ook geen goeie voorbeeld as volk was nie, lees ek van ‘n man, Jesus. As die slim ouens reg is was hy jonger as ek toe hy vermoor was. En bietjie verder lees ek van ‘n ou, Paulus. Hy skryf van ‘n dowwe beeld. En op verskeie ander plekke lees ek dat daar net een ware regverdige is. Ja, Noag was regverdiger as die ouens van sy tyd en Job het geglo hy is regverdig en Daniel was seker ook naby daaraan en Moses! God het hom sy vriend genoem, tot Moses se ander-ras huwelik oorgesien en hom eerder gestraf oor hy die klip geslaan het en nie gepraat het nie (Hy was ongehoorsaam.)...

Ek lees gereeld oor baie goed en ek lees ook o.a. van Gideon Joubert se groot gedagte, waar hy baie internationaal bekende wetenskaplikes van die afgelope 100 plus jaar se denke mooi in afrikaans raakvat, van die groot avontuur waarin Leon Rousseau nogal insiggewend gesels, van Hovind en sy vereenvoudigde teorie, van Louis Gigleo en nog ‘n paar ander ouens. Ek het ook eendag na Prof Slippers van die Bio-genetieka departement aan die Universiteit Pretoria geluister, ‘n man wie dit vir my klink, die balans gevind het tussen wetenskap en christenskap in sy eie lewe. Nou wil ek my eie mening waag, en dis WAAG met hoofletters, want onthou, ek is net ‘n leek.

Indien enige geloofs groep, dinominasie, wetenskaplike/s glo dat wat hulle glo(weet) in verband met alles wat bestaan ‘n 100% die enigste waarheid is, glo hulle net hulself...
Die Bybel is vir die mens gegee as riglyn vir die lewe op aarde en as openbaring van die een kern waarheid rondom ons redding tot ‘n ewige lewe deur ‘n liefdevolle, maar regverdige God se ingrype, nie om presies vir ons die detail van die werking van die skepping en al die kragte daarvan te verduidelik nie. Daardie kragte, hetsy fisies of biologies van aard, word wel genoem in die Bybel en dit is vir my genoeg bewys dat dit wel bestaan. Hoe sou die arme ouens van 2000 jaar gelede die relatiwiteids teorie snap, of die werking van mutasies op bio-molukulere vlak of die bio-genetieka, ek snap dit nou nog nie en ek dink ‘n hele paar ander ouens ook nie. Om te dink dat ons as mens die totale skepping en nie eers te praat van die ewige doel daarvan, kan saamvat in enige mens geborge gedagte of wetenskaplike geskrifte en dokumente sou sekerlik wees om vir ‘n lewende God aan bande te probeer lê, in te perk, tot ons vlak van verstaan. Ons gedagtes is waarlik nie Syne nie en ons kan nooit in hierdie bedeling alles verstaan of insien nie. En gelukkig weet Hy dit. Ek dink elke ou moet dit vir die self maklik maak. Die ouens wie weetgierig is, moet aanhou soek en vra en verduidelik wat hul vind en die ouens wie kwaad word oor die dinge en wal gooi en wetenskap as kettery afmaak, moet eerder stilwees en geduldig wag vir “eendag”. Daar staan tog dat ons nou slegs ‘n dowwe en raaiselagtige beeld sien, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is.

7 Comments:

At May 4, 2010 at 7:49 AM , Blogger Jan said...

Gustav ou maat, ons gaan jou mis!Ons weet jy is nou in 'n beter plek.

 
At May 4, 2010 at 1:51 PM , Blogger Alice Vogt said...

Gaan jou wyse woorde mis... Kyk mooi na Marlene van daar bo af!

 
At May 4, 2010 at 6:23 PM , Blogger fielies said...

en nou , nout jy nie meer asem nodid om kakhuis tu te gaan nie . ander reken dis n beter plek .....waar jy nou bly ,dan mut ek mos bly wees ....maar ek is net seer . en leeg . jy weet mos dat jy meer as net n vriend was my boetie....mentor ....inspirasie...en moenie vir my lag as ek hier staan en aanjaag nie .....WANT EK HOOP EK SIEN JOU EENDAG WEER BOETA.....EN AS JY KAN VRA VIR N BIETKIE REEN....en ek het milis begin afhaal vandag , maar jy weet dit.....

 
At May 4, 2010 at 7:45 PM , Blogger Unknown said...

Aan Gustav se familie, my hart is seer saam met julle. Ek het Gustav baie jare gelede saam met sy ma leer ken toe ons in die PE prov hospitaal sit en wag het om dokters te sien; hy was altyd inspirasie omdat dit so goed met hom gegaan het. Ek was ook bly saam met julle toe Alice my Sondag laat weet het daar is longe vir Gustav.
Mag julle genade en seën ontvang in hierdie tyd.
Rene Vosloo

 
At May 5, 2010 at 12:14 PM , Blogger Unknown said...

Jy het jou seile gespan en die Here het dit vol wind gemaak, tot oorlopens toe vol. Dankie vir jou lewensboodskap, dat ons elke dag moet leef asof dit ons laaste is, maar nie met hartseer nie, met vreugde en blydskap. Tot weersiens ou vriend.......

 
At May 6, 2010 at 10:22 PM , Blogger Steph said...

Ons is almal aan mekaar gebind in ons liefde vir jou, kleinboet. Ewig dankbaar vir die bydraes wat jy tot nou toe en nog tot in ewigheid in ons lewens sal maak. Die verlange sal nog baie seermaak, maar die vooruitsig van 'n ewigheid saam met jou en ons Skepper-God bring troos.

 
At May 7, 2010 at 7:44 AM , Blogger Tom said...

Gustav, jy is vir ons almal 'n inspirasie. Jy het voluit gelewe en almal altyd gehelp waar jy kon.Jy het nooit gekla nie.Ons gaan jou mis!

 

Post a Comment

Subscribe to Post Comments [Atom]

<< Home