“Khô-Es”
Daai plek, hulle skryf hom Koës...ek ken hom nie, maar was al daar. Vra vir manne soos Oom Ben en Oom Pieter, hulle kén hom. Met sy rooi duine, breë plat sand strate, Gemsbok en Springbok, Kalahari leeus die Auab “rivier”, bietjie oos. En sy mense. Dis hier naby waar ek 'n Colt amper leer vlieg het. Om “wildkamp” toe te ry met ‘n twee-liter-twee–wiel-trek mmm..., was ‘n ervaring. Eintlik is daai hele omgewing daar teen die Auab soos ‘n wildkamp (my eie mening). Dinge werk anders daar, vandag nog. Die winter son was warm en die bande te hard gepomp, verder was my durf baie meer as die beskikbare woema onder die Colt se enjinkap.
Daai eerste duintjie kort na die dubbel hek het my laat wonder...,maar ook gedaag vir iets groters en hoër. Oom Pieter se woorde draai nog in my kop: “Jy gee net genoeg vet en hou jou spoed, dan op die kruin van die duin moet jy so effe rem...” Bo-op die eerste klein duintjie na die dubbel hek stop ek. Die straat lê breed voor ons, seker 300m, die eerste van die grotes merk die einde van die eerste straat. Daarna is dit rooie op rooie op rooie, soos golwe in ‘n see van sand. Die Kalahari roep wild na my...
Ek steek die neus teen die duintjie af en die geklets op die agtersit is jolig en ego die ritme van die drawwende Colt oor die sand walletjies op die straat bodem. By die voet van die eerste rooi duin lig die bakkie se neus, ek voel hoe die sand die voertuig begin vas suig en hoe dit die krag van die enjin tap...Halfpad teen die duin op suig ons vas.
Ons kyk vir mekaar en glimlag wittande – hierdie kan lekker raak. Ek stoot terug teen die duin af tot halfpad terug na die klein duintjie en jaag die toere bietjie op. Toe ek die koppelaar los skop die bakkie ‘n klomp stof en sand op en ons beweeg skaars vorentoe. Ek hou die toere hoog en die spoed raak effe beter so dat teen die tyd dat ons die rooie weer ontmoet ons omtrent soos die eerste poging vaar, net effe swakker, want die sand is mos toe al bietjie los gekarring. Ons kyk weer vir mekaar, lag oop bek, en stoot al die pad terug tot die agterwiele effens op die eerste klein duintjie begin klim. Nou vat ek hom sommer met spoed. Die geselssery op die agter sit herinner aan daai rooi vinke in ‘n rietbos. Die bakkie se onderstel en suspensie kwetter saam soos ons oor die sand hobbeltjies blits.
Die Colt se voorwiele vat daai duin teen 90km/h, en ek voel hoe my strot in my maag insak. Op daardie selfde moment raak al die “vinke” doodstil. Voor my is dit net die mooiste blou lug. Ons vlieg! In die agtergrond dring die geskreeu van ‘n twee-liter op volketel deur tot my verstand. Toe ons bo deur die kruin van die trajek beweeg is my maag volspoed in tru-rat oppad om met strot, derms en nog wat by my mond te uit. Die bakkie se neus pyl af, die toere teller is steeds in die rooi, want my regter been weier om vir my enkel te sê hy kan maar ontspan. Die volgende oomblik ruk my gorrel weer styf toe die wiele sand vat omtrent twee tree voor die gelyk sand van die straat...
Dis of ‘n bom in die bakkie gebars het, party lag, praat gelyk en almal het na die draai in die kruin van ons trajek uit vollebors gegil. Die vinke is met mening terug toe die bakkie koers vat oppad na die tweede rooie...maar ouderdom en wysheid het gemaan om om te draai.
0 Comments:
Post a Comment
Subscribe to Post Comments [Atom]
<< Home