Thursday, November 12, 2009

Fluistering


Ons sit vanoggend en terug dink oor die afgelope 20 jaar saam. Dit was ‘n mallemeul van skuiwe, stampe, stote, besluite, trekke, groot gebeure en skielik besef ons – geloof toetse. Sommige het ons self gekies en ander het sommer ongevraagd ons kant toe gekom en ek besef nog iets…

Alles is gemaak om op bepaalde tye te verander, die weer, die lig, die seisoene, die diere, die mense, die koninkryke, konings en heersers, tegnologieë, idees, gode, en gelowe, teologiese sienings, hipotese, teorieë, kennis, planete, die ganse ruim – alles! Net een ding bly ewig dieselfde – konstant-sterk en stil, rustig, magtig… Hy, die skepper van alles wat verander. Maak nie saak of dit vinnig of stadig gebeur nie, alles verander, maar Hy, Hy bly dieselfde. Hy heers oor alles – die bewys juis in dié konstante verandering – Sy heerskappy, dis Sy skepping, Syne! Hy is van ewig tot ewig besig om te heers oor alle sienlike en onsienlike dinge.

En ‘n belofte iewers van ewige ewewig, geen meer orde soos ons dit ken, geen chaos meer, alles verander om te deel en lewe in vrede tussen almal en alles, met een Koning en een Troon wat nooit sal verander of wankel nie.

En intussen, die mens, ons, krappend in die stoffies, opsoek na antwoorde in ons eie beperkte kennis. Gebind deur ons eie arrogansie met ‘n onvermoë om ons tekortkominge te erken, verblind deur ons vrese – ons sonde. Alles wat nodig is om te weet is reeds openbaar. As almal maar net kan sien…Hy het ons klaar gered…luister net daar… hoor die Fluistering.

Monday, November 9, 2009

Venak

Ek wonder sommer: Hoekom na-week en nie voor-week nie, of voor-en-na-week? Dit wil sê venak. Soos “Ons gaan die venak vis vang.” of op ‘n Maandag oggend: “Ons het die venak vis gevang.” Iemand sal seker iewers opmerk dat woorde nie soos somme is nie! En tog kan mens baie woorde, hoe sal mens sê, U-I-T-W-E-R-K. Iemand anders wat ek ken sal vir my sê ek het niks om te sê nie nou praat ek sommer net snert, bollie, poef, twak, en…en…en…Ja, ja, ja mens kan ook nie die hele tyd 100% sin praat nie of wat? Sin lê juis soms verskuil in die on-sin. Dis hoe my lewe verloop en ek is seker baie ander mense ook as hulle die tyd sal neem om op die stoep te gaan sit en eendag mooi oor alles na te dink. En wanneer hulle koppe net mooi leeg gedink raak, kom hulle dalk agter dat alles wat hulle gedink het sin is, juis onsin is en baie van dit wat as onsin beskou is, juis sin het…