Thursday, November 26, 2009

Ek probeer...

Vandag was weer dokter dag. Hy sê hy is nie 100% tevrede nie en ek sê toe ek ook nie… Hoe kan mens 100% tevrede wees met 24% van jou longe? Hoe sal enige mens tevrede wees om gemarginaliseerd te bestaan terwyl daar steeds hierdie wil is om “vol-klok” te hardloop. Dit bly ‘n stryd, elke dag, vir enige mens wie ‘n normale “gesonde” lewe gehad het en dan binne ‘n relatiewe kort tyd daarvan moes afstand doen. Die ergste seker nog dié wie in ‘n oogwink hul vermoëns verloor het. Vir my was dit eers so ‘n gelydelike agteruitgang en toe skielik, vinnig…nou talm ek hier op die randjie van die ewigheid. Ek probeer om “normaal” aan te gaan. Saans teen slaap tyd is my hardklop iewers tussen 120 en 130 – sommer van niks. Soggens wanneer ek wakker word is dit 71 en O2 sats 91%, dan voel ek weer goed. ‘n Nag se rus is ‘n goeie ding!


Dinsdag middag skiet ek toe my eerste vlakvark. Ek was moeg, na die afslag – pootuit. Ek kon eers die volgende dag die messe en werk area skoonmaak. Dit was vir my ‘n vreeslike inspanning – en tog lekker. Ek moet aanhou probeer om die gewone dinge wat ek gedoen en geniet het te doen so ver ek kan. Net die “te” onthou en in ag neem.