Wednesday, January 28, 2009

Bosvarke by die Bamboesbos vervolg

Ons het die laaste kilometer na die lande stil en in die donker geloop en staan by die noordwestelike hoek. Die lande lê afdraend en buig konkaaf voor ons uit sodat mens van die draad af lekker oor die plaat mielies kan sien. Suid in die verte le oom Bokkie se huis, oos die vyebome, agter ons die statte, regs en skuins voor ons die donkerte van die piskloof bos, die bron van onheil wat af duiwel in die Zalaga Rivier in en skuins lings tussen die huis en die vyebome die bamboesbos…

Dis stil en die effe lig van ‘n kwartier maan blink dof op die mieliesee voor ons. Die stuk aarde voor ons lyk vir my skielik baie groot en die piskloof bos lyk hel donker en té onheilspellend stil. In daardie omstandighede lyk die klofie toe amper na ‘n krans. My vermoede was dat die booswigte uit die donkerte van die bos toeslaan en daarom was my plan dan ook om hulle in die bos te gaan soek…Daar in die doolhof van paadjies en tonneljies onder wag-‘n-bietjie en “koraal”saag bosse so ruig dat die son op ‘n helder Januarie middag nie daar onder lig maak nie…En omdat daar toe net donshael oor was op die amenusie hoop moes ons plan van aksie toe op kort kennisgewing verander na iets soos volg: ek kruip voor met die .303 en as ek mis sal ek my sywaarts teen die tonnelwand vas werp, met die verby storm van ‘n ongedierte sal ek dan lings met die 9mm ‘n kopskoot in die oor sit en met die regterhand sy pens met my knipmes oopsteek. As hy dit als oorleef dan moet Basie hom op kort afstand met die donshael in die gesig skiet, en as hy nog leef sal ons hom met hande en voete moet dood kry, ek met voete en Basie met sy hande. (My plan het glad nie in ag geneem dat die ongediertes in groepe van 5 – 30 beweeg nie, maar dit het ek eers jare later agtergekom.)

Met dwaasheid in my hart en ‘n onverklaarbare bang in my kop kruip ek voor, die eerste donkerte van die piskloofbos in opsoek na ‘n bosvark tonnel(paadjie), die loop van die gelaaide 12br blink sy laaste blink in die flou maanlig voor dit omtrent 90 centimeter agter my volg met neef Basie daar agter… (ek sal hom vandag nog met my lewe vertrou).
Die ranke vol doringkies raak ruig en later seil-kruip ons behoorlik.

Ons kruip en seil dan stop ek en as die 12br teen my stewel se haak stamp dan stop neef Basie. Dan vries ons so en ek luister… en ek weet hy luister. En ek kyk met wyd oop gesperde oe die donkerte in… en ek weet hy kyk op dieselle manier. En ek sien boggerol… en ek weet hy sien ook boggerol. En met die luister hoor my ore baie goeters… en ek weet hy hoor ook baie goeters. En in my kop gaan baie goeters aan en as ek nou terug dink dan wonder ek wat in sy kop aan gegaan het…

En ons kruip weer ‘n slag vorentoe, en ons wag en luister en kyk en die sweet tap in my oe, maar dit het nie saak gemaak nie, want op daardie stadium het ons lankal nie meer op sig staat gemaak nie. En ons kruip weer ‘n slag vorentoe en die wag-‘n-bietjie en “koraal”saag trek aan ons klere en ore en die dwaasheid in my hart raak al kleiner en die bang in my kop al groter. En so met die aan kruip dreig die bang later om van my kop af horisontaal te skuif na my broek en toe daar so knop verby my keel skuif toe is dit net dat ons in die middel van die piskloofbos is en die spanning is onhoubaar en ek weet dat as daai knop verder skuif gaan my neef dit nie oorleef nie, want hy kruip agter…

Ek beur op en vorentoe en verligting kom, want met dié breek ek deur in ‘n beespaadjie en ons is verlig, ons fluister glad met mekaar en ek vee sweet af en ons slaan eers water af daar in die piskloof se donkerte. En so met die waterslanery besef ons saam dat daar nie ‘n ongedierte die aand in die bos skuil nie, hulle is seker klaar in die land aan die vreet, ons sal moet gaan kyk. Ons stryk toe ook sommer met die bees paadjie aan uit die bos uit. Ons het mos die kloof gevee, dis skoon, en ons werk so met ‘n effense draai verby die land en terug net op ‘n veilige afstand van die draad. Ons bevind ons toe tussen Oom Bokkie se huis en die land opkoers na die Bamboesbos. Ons beweeg stil sodat ons kan luister en ons hoor dit so saam-saam, in die verte die geknars soos die varke my Oom se mielies staan en vreet in die flou maanlig. En ons loop nou sommer langs mekaar, snaarstyf, gewere so halfmas. Staan en luister… en dis weer daar, duidelik ‘n knaagery en gekners soos die koppe mielies verflenter word. Die dwaasheid is weg, die bang is weg, al wat toe heers is gretigheid om die booswigte aan die kaak van geregtigheid en die oop kant van die loop te stel. En ons werk so stil-stil ‘n PVA uit dat ons tot by die draad langs die Bamboesbos sal beweeg voor ons die skietlig aansit en dan met mening losbrand. In my gedagtes sien ek al hoe die varke rol soos ons hulle omklits. En ons is by die draad en daars dit weer… en die lig gaan aan en ons kyk en ons kyk in die kol lig… dan langs die kol lig en daars geen varke nie en daars die klank weer… en die kol lig skuif na die bamboesbos en daars die klank weer… en ‘n effense briesie druk die bamboese en die bamboes stamme druk teen mekaar en daars die klank weer…

Tuesday, January 27, 2009

Bosvarke by die Bamboesbos

'n Hele paar jaar gelede, toe ek nog geglo het 'n .303 is die beste jag geweer en Oom Bokkie nog mielies geplant het op Grootklip 2, het hy vreeslik las gehad van bosvarke.

In daardie selfde tyd was die Baas (vlakvarkversuiper) nog net Basie en ek net Gugie, maer en seningrig soos ‘n bosbok se voorbeen biltong. En so versigtig as wat Basie was met alles, so het ek in my dwaasheid vir enige iets kans gesien. So sit ons een middig by Oom Bokkie en koffie drink toe hy weer kla oor hoe die bosvarke hom uitroei saans daar in sy mielie land, so erg meen hy, dat hy nie ‘n kop mielies sal oes as dit so aangaan nie.

Ek verneem toe of hy ‘n plan het en hy vertel van stel gewere en spanne manne met roers en troppe honde wat die ongediertes probeer uitroei en meeste van die kere dan sleg tweede kom. Menig maal na so ‘n bloedige nag gevegtery met die ongediertes sal daar ‘n paar honde dood wees, ‘n paar gewond, ‘n paar weg en by die mense het dit ook dikwils nie beter gegaan nie. Die vreeslikste dinge het die manne oorgekom. Party se bobeen spiere is afgeruk, party se kuit spiere, ander is dan nog soek na die wegholslag en so wei hy uit oor die vreesbewind van die bosvarke op Grootklip 2.

Nou kyk so kan dit nie met ‘n boer gaan nie! Ek het mos darem ‘n neef met ‘n .270, ‘n 9mm, ‘n 12br pompaksie, ‘n skiet lig en nog ‘n paar wapens en ek het darem my .303, een van daai wat die ouer ooms so by die polisie veilings gekoop het en ‘n 9mm krt. Ek reken toe ons kan mos ‘n klein oorloggie teen die vreeslike ongediertes voer. Nie konvensioneel nie, maar meer soos insurgente op die insurgensie metodiek. ‘n Stil lae profiel, klein groepie wat snags met dodelike aksie sal kan werk. Veg die booswigte met hul eie modus operandi! Vuur met vuur! Ja man, dit kan werk! En ek bel my neef en vertel hom als en my plan…

My ouer neef luister en vra my of ek al gesien het hoe so 'n vark kan byt. Nee, se ek en saam besluit ons dat omdat alby van ons nog net gehoor het en nie gesien het nie, dit net bangmaak praatjies is. Nou moet ek verder verduidelik dat daar danksy ‘n ander rooikop vuur eter-lood-spoeger genaamd “Fielies” gewoonlik ‘n helse klomp amenusie op Grootklip 1 gebere word vir die wis en die onwis en ook die groot jeuk wat knaend op die wysvinger uitslaan. Met die hoop amenusie in gedagte verseker ek my neef dat daar meer as genoeg bokhael is vir sy pompie en ek sal so twee 10 skoot magesyne vol vir die .303 reg hou. Sy 9mm rondtes moet hy self voor sorg en dan deel ons die handgrenate en rook grenate en skokgrenate die middig as hy op Grootklip 1 aankom voor die aand se oorloggie.

Kort voor skemer staan my versigtige neef en ek voor die oop bek van die wapen opslagplek op Grootklip 1 en ek fluit 'n fluit van pure verbasing deur my voortande. Van die hoop amenusie het daar slegs ‘n paar donshael skote oorgebly. Dit lyk toe of die SAP se teeninsurgensie eenheid reeds ons geheim ontdek en verwyder het. Ek krap die paar haelpatrone bymekaar en gee dit agtertoe aan met die versekering dat hy nie moet worry nie, ek het ‘n plan. Ons kan darem nie nou kop uittrek nie. Die oom het spesiaal sy stelgewere vir ons klein oorloggie af gelos en sy kontrak met die uitroei bende gekanselleer, sy honde toegemaak vir die nag en al sy werkers aangese om die nag nie ‘n voet buite hul huise te sit nie. En saam met die donshael het ons darem nog elk ‘n handwapen en ek my betroubare ou .303…en knipmes.