Saturday, October 11, 2008

Wat maak jy dan?!

‘n Neef en ook goeie vriend van my, ek noem hom maar die Baas, vertel my hy het eendag gaan vlakvark skiet iewers in die Oos Kaap. Dié goed lyk mos altyd so koddig en kommieklik, maar wees maar versigtig…

Na ‘n kort soektog kry hy varke by die river, maar hulle staan aan die oorkant. Die rivier is nie baie diep daar nie en hy vat toe ‘n skoot na een van die groter varke. Toe die skoot klap lê die vark en die Baas begin sommer dadelik skoene en broek uittrek vir die deurstap se gaanhaal.

Met slegs ‘n T-hemp en onderbroek aan sy lyf land hy toe oorkant, sal ek maar byvoeg, “aanwal” en loop die vark by om dit terug te sleep. Toe hy aan die vark wil vat sien hy die ding is lus vir bykom. Hy het sy .270 en mes by sy broek en skoene aan die oorkant gelos en staan so sekonde of twee die vark half kaal en kaal hand en aankyk, gryp toe ‘n groterige klip en gooi dit teen die kop - disnis. Om seker te maak, gooi hy toe nog ‘n keer, neem nie verder kennis nie, en vat heel tevrede die vark se agter been vas en sleep die ding rivier toe vir die terugtog na die bakkie.

Net dat hy die water begin in, kom die vark by, en die ding is toe sommer heel by en lus vir baklei met dié vreemde twee-been-krokkedil wat hom water toe wil vat. ‘n Paar benoude oomblikke volg waartydens hy met ‘n gespartel die vark van sy lyf afhou en die ding nood gedwonge in die rivier versuip.

Hy vertel hy sal na die voorval nooit weer sonder ‘n wapen in die hand ‘n vlakvark byloop nie, al is hy klaar “dood” geskiet.

Ander dag vertel ek van een nag toe Die Baas en ek bosvarke jag, hy met donshael in sy pomp aksie en ek met 'n Lee Enfield .303...