Saturday, January 23, 2010

No. 10621777

Voor die wekker, was ek reeds vanoggend op, om hierdie nuwe hoofstuk te begin.
Ons is vroeg hier weg Pretoria toe om my te gaan inskryf by die Universiteit van Pretoria, ek wou nog altyd by so ‘n plek studeer…! (Ek het myself in die hartjie van BLOUBUL land begeef) – pype in die neus en arm, rugsak met al die mediese benodighede op my rug, met die motorfiets oor my skouer en my draer met die suurstof-tenk agterna – daar gaat ons die donker dieptes af, onder die Ingenieurs fakulteit se gebou in. Opsoek na lesingsaal1-4. Wat ‘n gedruis van studentelywe! Almal daar om te registreer vir ‘n Honeurs Graad in een van die vele siviele rigtings, party grys, party bloedjonk, een in haar rystoel en ek met die pype. Die trappe vat ek toe maar stadig, omtrent so stadig soos die tou by die finale registrasie lokaal – waar hulle alles op die instansie se rekenaar stelsel vaslê. So is dit dan gedoen. Ek doen dit vir die lekker. Sommer net vir sommer, ek hoop ek word dit end uit gegun en sê dankie vir die geleentheid tot dusver. Ek het nou ‘n nommer 10621777…

Friday, January 22, 2010

Waar vandaan Gehasie?

Kind van Afrika
Ek het af gestap na waar die paadjie doodloop en weerskante en voor my het die see vêr onder gekook. Agtertoe, soos die skerp rug van ‘n ongedierte het Kaappunt se berg sy moedige tog die binneland in gedwing – na Afrika. Waar pas ek in? Met my wit vel en vreemde jong taal…Waar kom ek dan vandaan…?

Verder noord, die land van Afrika in het ek met die arrogante bobejane van die Kaapse skiereiland slaags geraak. Ek kon net baksteen grootte klippe na hulle gooi omdat die reëls van nie-Afrikalinge my moordgedagtes aan bande lê. Binne die “Moeder Stad?” het ek in die boonste verdieping van “vername” mense se werkplek my lot rakende die bobejane verkla en my gedagtes gedeel. Met skok en afgryse was ek aangekyk…O, ek het begin verstaan, die Moeder Stad is toe nie die moeder stad vir iets uit Afrika nie, maar eerder elders. Ek het vreemd ontuis begin voel.

Daar’s ‘n plek met die naam, Gustav’s Platsen, in Stockholm aan die ander kant van die aardbol, onder die grond is daar ‘n moltrein stasie genoemd Odenplan en bo in die middel van Gustav’s Platsen is Gustav’s Kyrka – ‘n Goties-agtige kerk – ‘n dooie kerk. Hier het ek die aardbol probeer rol, vrugte gekoop en onder ‘n boompie gesit en eet. Is dit my plek?? Die somer son het effens flou gevoel en die skaduwee het reeds gefluister van helse koue wat om die draai wag. Die meeste mense om my se gesigte bleek, die oë strak, dalk deur die mal man onder op Odenplan getraumatiseer…

Die inperking van straat en spoor en muur, die geraas en geblaas, gedreun het teveel geword. My siel wou op ‘n hoë berg staan, weg van die remoer. My gees wou op ‘n eensaam strand wandel. My sintuie het verlang na die bos met al sy geluide: sonbesies, “Qandilanga” – hy roep die son, bondhoutkappers, ‘n bosbok wat blaf, die vleiloerie voor die reën en die bos loerie met die reën. Stemme wat vêr in die klam lug dra, ek het gevlug…terug na Afrika.