Monday, April 12, 2010

Hier kom die ape!...Nee, mense!!

Met groot versigtigheid wil ek hier loop.
Ek hoor die afgelope week baie gesprek in die media oor evolusie en die Bybel en hoe die twee bymekaar gebring word deur sommige en hoe ander weer heel afsydig staan en reken dis onmoontlik. Vir sommige is daar grys areas en vir ander net wit of swart. En in die middel staan Christen wetenskaplikes. Ek is ‘n leek. Ek het al die Bybel deur gelees en weer hier en daar en sommige stukke oor en oor en seker in my kort lewe meer as een keer daar deur. Ek lees van Hemelwesens wat kinders by mense gehad het – die sogenaamde “reuse”. Ek lees van Metusaleg wie 969 jaar oud geword het. Ek lees die skeppings verhaal van ses dae als gemaak en sewende dag gerus. Ek lees van 1000 jaar soos een dag en een dag soos ‘n duisend jaar, ek lees van Egipte – toe Egipte geheers het, die Babiloniese Ryk – toe hulle geheers het, die Romeine – toe hulle geheers het. En so tussen dit alles deur lees ek van ‘n volk en uit daai volk, wie ook geen goeie voorbeeld as volk was nie, lees ek van ‘n man, Jesus. As die slim ouens reg is was hy jonger as ek toe hy vermoor was. En bietjie verder lees ek van ‘n ou, Paulus. Hy skryf van ‘n dowwe beeld. En op verskeie ander plekke lees ek dat daar net een ware regverdige is. Ja, Noag was regverdiger as die ouens van sy tyd en Job het geglo hy is regverdig en Daniel was seker ook naby daaraan en Moses! God het hom sy vriend genoem, tot Moses se ander-ras huwelik oorgesien en hom eerder gestraf oor hy die klip geslaan het en nie gepraat het nie (Hy was ongehoorsaam.)...

Ek lees gereeld oor baie goed en ek lees ook o.a. van Gideon Joubert se groot gedagte, waar hy baie internationaal bekende wetenskaplikes van die afgelope 100 plus jaar se denke mooi in afrikaans raakvat, van die groot avontuur waarin Leon Rousseau nogal insiggewend gesels, van Hovind en sy vereenvoudigde teorie, van Louis Gigleo en nog ‘n paar ander ouens. Ek het ook eendag na Prof Slippers van die Bio-genetieka departement aan die Universiteit Pretoria geluister, ‘n man wie dit vir my klink, die balans gevind het tussen wetenskap en christenskap in sy eie lewe. Nou wil ek my eie mening waag, en dis WAAG met hoofletters, want onthou, ek is net ‘n leek.

Indien enige geloofs groep, dinominasie, wetenskaplike/s glo dat wat hulle glo(weet) in verband met alles wat bestaan ‘n 100% die enigste waarheid is, glo hulle net hulself...
Die Bybel is vir die mens gegee as riglyn vir die lewe op aarde en as openbaring van die een kern waarheid rondom ons redding tot ‘n ewige lewe deur ‘n liefdevolle, maar regverdige God se ingrype, nie om presies vir ons die detail van die werking van die skepping en al die kragte daarvan te verduidelik nie. Daardie kragte, hetsy fisies of biologies van aard, word wel genoem in die Bybel en dit is vir my genoeg bewys dat dit wel bestaan. Hoe sou die arme ouens van 2000 jaar gelede die relatiwiteids teorie snap, of die werking van mutasies op bio-molukulere vlak of die bio-genetieka, ek snap dit nou nog nie en ek dink ‘n hele paar ander ouens ook nie. Om te dink dat ons as mens die totale skepping en nie eers te praat van die ewige doel daarvan, kan saamvat in enige mens geborge gedagte of wetenskaplike geskrifte en dokumente sou sekerlik wees om vir ‘n lewende God aan bande te probeer lê, in te perk, tot ons vlak van verstaan. Ons gedagtes is waarlik nie Syne nie en ons kan nooit in hierdie bedeling alles verstaan of insien nie. En gelukkig weet Hy dit. Ek dink elke ou moet dit vir die self maklik maak. Die ouens wie weetgierig is, moet aanhou soek en vra en verduidelik wat hul vind en die ouens wie kwaad word oor die dinge en wal gooi en wetenskap as kettery afmaak, moet eerder stilwees en geduldig wag vir “eendag”. Daar staan tog dat ons nou slegs ‘n dowwe en raaiselagtige beeld sien, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is.