Thursday, June 4, 2009

Om 'n tarrentaal te jag


‘n Vriendin van ‘n vriendin soek vere. Van die soort met kolletjies…En ek eet mos graag ‘n wilder soort voëltjie se vleis…

Tarrentaal se kind so na aan die Goudstad word al vir ten minste 200 jaar deur ons voorsate gejag. (Terloops die seisoen vir tarrentaal is darem nou oop, as ek dit reg het van 31 Mei.) Jy kan jou indink dat hierdie kolveer hoenders met rooi vleis al redelik versigtig vir mense is na meer as 400 geslagte van “hol as hul bleek mense sien!” En dis net die blekes, ek is redelik seker die ander skakerings van die reënboog-nasie het ook al die vleis gesmaak, dalk baie lank voor ons blekes.

Na die eerste oggend-medisynes en e-pos en pap en koffie en broodjie en nog koffie en twee “kantoor” oproepe is dit dan ook jag tyd. Nou moet die honde georganiseer word, want party gaan saam en ander bly, ‘n drywer moet gereel word, want ‘n mens moet nogal goed wees om te kan ry en skiet. Ja, ek weet daar is ander maniere, maar dis hoe ‘n ¼ asem dit doen: jaag in… skiet, tel op, blaas jou asem terug in jou longe… kry nog ‘n “kantoor” oproep, “wat blaaaas jy so?”…en jaag uit…Gaan drink koffie en werk, want die kolveer hoenders is nou wilder as die wildtuin. En so neem Marlene my op die jagtog - jaagtog. Prettig. Eers wil sy nie teen die walle uitry nie, dan jaag sy sommer later heen en weer daaroor. Ek wat met my lyf bo-uit hang en met voete en bene binne die bakkie klou om oorlewing. “Ryyyy! Stadig, stadig, nou, nee ry nog entjie…. Bha!!....stilte. “Sit maar af die bakkie.” Ek ontstrengel my bene tussen die pypie en die asem masjien se herlaai draad en val agteroor by die venster uit. Die tarrentaal lê en spartel sy laaste spartel in die land vol goud. In die bakkie huil Marlene vir ‘n rukkie oor die voël nou-net nog gelewe het. Sy nek is af, die koëltjie het sy nek murg gebreek. More eet ek en sy lekker rooivleis-hoender en sê groete vir die ander…

NS W en W moet ons ‘n stukkie oor stuur??