Monday, October 19, 2009


Ons kuier saam op Holfontein se stoep, drink koffie , gesels nonsens- en diép dinge sommer so saam-saam. Ons braai taai- en sagte vleis saam op een rooster onder die boom voor Holfontein se huis. En sit saam onder die sterre en drink goedkoop- en duurder rooiwyn saam. Ons pak saam om die tafel vir vier, al sewe van ons en onthou ander tye van toe ons vroër ook saam dinge ervaar het. Dis ‘n goeie naweek, al is dit effe kort, een om te onthou. Nou is dit Sondag middag, die krag is nog steeds af, die ry stoele staan leeg op die voorstoep en die stemme van vroër is vervang met die voeltjies se gesing in die tuin.
Dis warm, stil en eensaam.
Dankie vir julle kuier.
Dit was lekker.