Saturday, August 29, 2009

Beduiweld

Dokter dag was dit, nou die Donderdag wat verby is. By die hospitaal het ek my verbaas oor mense se “self aangesteldheid” en “self ingesteldheid”. Die een persoon wou vir my besluit met wie ek mag kontak maak en met wie nie… So asof ek haar toestemming moet kry voor ek wat ook al! Kort na dié onstellende gesprek waarin ek net oorbluf geluister het en toe my skroefdraad uitgewis het, wag ons voor die hysbak… Die hospitaal se hysbakkie is soos iets uit ‘n Spielberg fliek en as ek hoegenaamd 9 vloere trappe kon klim sou ek die hysbak verseker vermy het. Daar is tans net een werkende hysbak in die hospitaal. Hiermee word alles wat moet, tussen die 10 vloere van een van die grootste hospitale in die land, op en af geskuif. Wat ‘n gemors! By elke hysbak deur klink dit soos ‘n klein betoging uit die middel-tagtigs soos mense staan en wag en stoei vir ‘n gaping. Die gesonde sterkes wen natuurlik en die swakkes en siekes moet wag of die trappe klim. Ironies @#$$&* belaglik snaaks! ‘n Resep vir chaos en rasse geweld, want wat ek daar ervaar het wou my terug dryf na rassisme. Hierdie hysbakke is al van my eerste besoek in 2005 in soortgelyke toestand.

Hang dit van my keuse af, was dit my laaste besoek aan Johannesburg Akademiese Hospitaal.

Ek moes ons bees-skaal gaan afgee in een van die nywerheids areas net suid van die middestad. Ons ry toe ná die hospitaal besoek daarheen en al wat my opval is die totale verval van so baie geboue en fasiliteite in en om die stad. Die goudstad was definetief iewers van sy “goue glinster” beroof. Die M2 snelweg was in chaos gedompel en dit 14:30 op ‘n Donderdag middag. Terwyl ons in die verkeer sit steek daar ‘n geweldige storm op. Die mynhoop stof word die lug in gesuig deur die voorwinde, daar kolk ‘n klein tornado voor ons langs die pad en dit word so donker dat ligte ‘n noodsaaklikheid word. Dit voel of die stad my geweeg het en te lig bevind het. Ek draai van die bekende weë af en vind ‘n stiller pad om uit die gemors te kom. Na ‘n paar vernuftige en genadige afdraaie is ons uit en ook onder die storm uit. Ons is, jy kan maar sê, “uitgespoeg”.

Die son sal wel weer skyn…ja, die son sal wel weer skyn. Ook in my donker gemoed.

Tuesday, August 25, 2009

Janbos et al


Geluk Janbos van Bosbokfaam met daardie mooi enetjie. Soos ons twee en yster saam weet jy het probeer! En wat anders as om te uit dat “dienaanhouer” sal wen. Ook darem nie teveel biltong gemors nie. Soet smaak die nasmaak van daardie klipperige kolletjie teen die koppie. As iemand iewers in die verskiet opgrawings daar sou doen mag hulle dalk op ‘n paar goed afkom. Moontlik ‘n knipmes of twee wat daar in die lang gras verloor het, dalk doppies van verskeie soos .303, .308, .243, .222, .22, .270, 3006 miskien ook die ou grote “MH”, oorblyfsels van baie lemoen en nartjie skille. Baie het al teen daai hange gesneuwel en defnitief meer het al daar oorleef!

Ek het baie oggende daar gesit en voor in my jas in gehoes en roggel as die hoesbuie my vat. Hoe hoes mens stil? Met moeite, maar jy leer dit later. Daar was altyd soggens net voor agt ‘n vliegtuig wat ‘n wit streep van oos na wes gemaak het, hoog het hy gevlieg, ek kon hom nooit hoor nie, net die wit streep altyd gesien. En die blou ape wat soms in die klowe raas as hul jou gewaar het. En die gegorrel van die loeries. Dan bak die sonnetjie lekker teen die bosse en speel deur die pluime van die dobbo gras hoër op teen die kop, oos van jou. Jy ruik die veld, die gras, die grond, sien die vaal kol wat skielik vorm kry, hy weet van jou en jy weet van hom en jou tyd is min voor hy verdwyn net so geheimsinnig en stil soos hy verskyn het…die bosbok ram.