My goeie vriend van Jan Noag faam het so ‘n jaar of twee gelede gevra ek moet hom asseblief help om sy ooms te kry. Hulle het iewers in die Wildekus ingevaar met drie bakkies en vier sleepwaens vol goed en nugter alleen weet waar hulle hul bevind. Ons sou moes loop soek, darem met die blou Toyota, want my asempie was toe al reeds ¾ verlore en te kort vir vêr loop.
Ons laai toe ‘n paar stokke en hoeke en ander basiese benodighede en ry die splinternuwe pad tot op die rand van niks by die Kei Rivier se pont. Die pont is so ‘n plat staal raam met staal kanne onder vasgemaak en ‘n redelike Mariner “outbord” op die een punt vasgebout. Hiermee neem ‘n vriendelike man jou met miskien nog een ander voertuig, 20 quads en 300 voetgangers oor die kilometer breë Kei na die oorkant, die Wildekus... Party mense byt hul sitplekke stukkend as hul die eerste keer die vaart meemaak. Die meer gesoute vaarders sien mens sommer gou raak. Dis nou die windgat ouens wat oor die kant hang, die mullets probeer vang met die hand en met die bootman geselse probeer maak…
Gewoonlik as die blou Toyota hierlangs gaan het hy regs gedraai na ‘n goeie gat, maar die keer met Jan se verlore ooms moes ons eers regs… en op teen die kop… en bo oor die vlak… en anderkant af en op… en weer oor die vlak… en voor ons is daar ganse… en anderkant die ganse is water… en ons gesels nog so oor die ganse en die water en die klonkies wat so langs ons hol… toe sien ons hulle hol nie, hulle staan net hulle arms en swaai… en ons ry… maar die klonkies bly hier langs my venster staan…en Jan vat nog ‘n slukkie van sy padkos…en die water kom nie verby nie…en ek vra vir Jan of ons dan die nawe gesluit het? En Jan kyk my net so snaaks aan en ek stop, maar toe staan ons eintlik lankal stil. Die water lyk so snaakse rooibruin kleur en nat en koud en mens het nie lus om daarin die klim nie. Die klonkies het lus vir stoot en geldmaak en ons het nie lus daarvoor nie.
Na so rukkie se gewieg en gesluite nawe is die blou Toyota darem deur die gans dam… en oor die kop… en ander kant af… en lings in die slegtepaadjie in… en deur die rivier… en op teen die bult… en verby die hutte… en sandgate en klip merkers… en dwars onder die ESKOM lyn in… en al met die ESKOM lyn tot daar tussen sulke plat vaal bosse deur ‘n dak verskyn. Dis wild daar op die Wildekus, tot die Garmins raak daar verlore en weg.
Ons kom kry toe daardie ooms daar dóér onder teen ‘n helse krans besig om die vis te tart en in my agterkop spel ek vis – “D-O-O-D”.
Hulle sien ons en toe word hulle dors en sê ons gaan eers ietsie by die huis gaan drink…en die een lang oom ken my mos nie…en hy vra “en wat gaan jy vat ouboet”…en ek sê “koffie, dankie oom” en hy sê “bliksem, dan’t ons nou ‘n probleem, want die koffie was al op dag twee op gedrink…” En die ooms is my genadig en loop ‘n stadige pas teen die krans op sodat ek ook kan hoor wat hulle praat. En so het Jan sy ooms gevind en die naweek lê nog voor…