Sunday, July 26, 2009

18:30 Vrydag 24 Julie 2009 ek is wakker sedert 06:50 Donderdag 23 Julie 2009, my pa is vandag 73 jaar oud en hy kom later vir my besoek. My hande lyk amper normaal, die spanning in my nek en rug is nog net effe daar. Ek kan my ¼ asem amper weer sy volle ¼ intrek. “I could be dead tomorrow…” was my woorde as rede waarom ek graag dinge wou uitpraat en afhandel vroër, gister. Dit voel amper profeties, maar was toe ‘n “could be…” en nie ‘n “am…” of “will be…” nie.

Ons het nog gisteraand oorweeg om Vrydag, (vandag), sneeu te gaan kyk, aandete klaar geniet, gekuier om ‘n irrish coffee en ..gits..., toe onthou ek van my ander koffie afspraak. Gou by Caroline en die tweetjies gaan hullo sê en kyk hoe dit gaan. Terwyl ek daar is probeer ek haar strykyster se aardprobleem oplos en breek die plastiekhegdeel van die ystervoet af. Ai. Terug by Naas en Lisa stop ek en maak die hek oop, ry in en stop. Dis omtrent 22:00. Stap hek toe. Ek ignoreer ‘n instinktiewe waarskuwing iewers in my agterkop omdat ek bang is die hond, Mac, is by die hek uit. Ek roep en die tweede waarskuwing is weer iewers. Maak die hek toe en draai om. Dis of ek iets in my bors voel roer en ‘n warm gloed spoel deur my. Ek ken dit. Ek meet die tree huis toe, beweeg, en roep my eerste roep na Naas. Warm vloeistof kook by my mond uit. Ek roep weer, maar die roep kom gorrelrig uit. Die lug is yskoud in my gesig, maar my vel is vuur warm. Binne in my bors kook dit. Nog ‘n mond vol kook oor my lippe uit. Ek kan die hoes nie onderdruk nie, want my liggaam reageer soos ‘n drenkeling. Ek roep weer na Naas. Die bloed is nou met elke proes of uit-asem ‘n mondvol. Ek gaan staan by die tuintafel en sien my eie bloed voor my op die tafelblad, die sitplek en ‘n grooterige kol op die grond. Bloed is lewe. My baadjie is bespat, my gesig is taai en besmeer om die mond. Ek leun met my hande in die bloed plassies op die tafel. Naas maak die deur oop. “Wat moet ek doen?” of so iets, vra hy. Ek sukkel om die goed in my gedagtes aan hom oor te dra. Ek het reeds begin opweeg wat my kanse is. Ek wag vir ‘n afname in die bloeding om te praat, dit voel so lank, maar is oortuig dit was slegs sekondes. Ek gebruik net los woorde om die moontlike impak op my bloeiend longe te verminder. Iets soos: “mediese respons, suurstof masjien, pyp, Cathrine Baird nommer op my selfoon.” Naas is terug die huis in om goed te gaan haal. Hy kom met die hele masjien by die voordeur te voorskyn. Ek haal vlak asem en dit voel of die lewe uit my vloei. Ek sak weer vooroor en wonder of dit is hoe dit gaan wees om te sterf. Ek voel nie bang of hartseer nie, net dat dit so morsig voel. Ek sweet en kry baie warm. Iewers het ek my warm baaitjie afgeruk en die lê ook op die tafel langs die bloed plassies, ek trek dit weer aan met die besef dat die snerpende koue op my warm lyf dodelik kan wees. Dit skemer tot my deur dat ek reeds hoop op oorlewing koester. Dit ontvlam net soos die dood van vroër hier binne in my bors en sprei deur my liggaam. Dit is ‘n stryd, soos oorlog. Ek tree weg van die bloed gemors af en staan/leun teen die muur. Iemand vryf my rug en ek gesels met God. Ek vertel die Here dat Hy my koning en my redder is. Iemand anders stry ‘n stryd vir my. Ek het vrede as hy my so wil kom haal, maar vra tog sonder woorde of dit regtig só moet wees. Die “uitkook” het gestop. Ek is net baie kort asem. My lyf begin van my maag af ondertoe bewe en ruk. Ek besluit om op een plek te staan en trap. Trap vir die lewe. Trap die rukkings uit my onderlyf. Naas kom vryf my rug, hy vryf te hard en ek sêvra sagter. Die bloeding het gestop, maar ek kan nie waag om gevorseerd asem te haal nie. Ek smag na diep asem teue vars lug. Ek voel moeg en koud en staan steeds en trap met my boude teen die muur, vooroor gebuig. Ek gesels weer met die Here, sagter die keer. Ek sê dieselfde goed as vroër, dat Hy my koning en redder is. Ek sê ook dankie vir die lewe wat ek tot nou toe gegun was. Ek moet wag vir die ambulans, hul suurstof sal meer wees, ek sal gou-gou beter voel. Ek hou in my gedagtes vas aan my hoop, aan my Redder en my Here en aan die twee mense by my.
Die lug is klam en fyn koue druppels reën val soms sag op my gesig. Twee mediese nood voertuie stop amper gelyk voor die hek. Die eerste een stoot in die erf in en twee ouens kom my haal. Ek loop of ek in my slaap loop. Ek vermoed my O2 vlak lê iewers tussen niks en nêrens, maar ek leef nog. Alles voel of dit stadig gebeur. Die een noodman (ek dink sy naam is Lance) help my en verduidelik presies wat hy gaan doen en wat hy van my verwag. Ek volg sy aanbevelings na my beste vermoë. Skielik tref ‘n gloed my weer. Ek staan op in die staande ambulans en besef dit is vrees. Dis te warm in die voertuig en die suurstof kom nie deur nie. Hulle stel die suurstofvloei reg en my jas word weer uit getrek. Dis beter. Hulle laat my ‘n rukkie om te stabiliseer op die nood bedjie. Ek kan glad nie lê nie en sit vooroor gebuig. Ek vra stil dat die rit gou moet verby kom. Die man praat met my en sê ek moet konsentreer om die gevoel van die lug in my neus te ervaar. Ek probeer en dit gee my iets om op te fokus. Ruagh. Die asem van die lewe. God se asem. Hy praat met my oor boeke en siektes van die longe en hoe dit werk. Die man vertel my waar ons ry en se dit is amper verby. Ons stop by die Hospitaal. Die ergste is nou vereers verby…Dankie vir nog ‘n kans.