Thursday, February 19, 2009

'n Lelike ding!

Met die gevis en gekuier saam daar op die wilde kus was die ooms van my vriend van Jan Noag faam maar redelik dorserig saans. Daar was toe darem gelukkig nog 'n 750g blik koffie vir my om van te drink, van daai bekende geel blik soort. Tenspyte daarvan dat dit taai boer-manne en telkom- manne en vlieniers en bank-manne en trekker-regmaak-manne was het hulle vir my, ou 1/4 asempie, van genoeg koffie voorsien. Soveel dat ek die volgende oggend 'n na-dors van al die koffie ontwikkel het. Maar die eintlike probleem het diep in die nag Saterdag gebeur toe ek met 'n geweldige behoefte om van sommige van die oortollige koffie ontslae te raak wakker skrik na omtrent 1h20 min se slaap. Ek loop toe so stil soos 'n bosvark-jagter-visterman kan in die gang af en om die hoek...versigtig om geen van die slapendes te steur nie…

Toe ek die hoek vat lat ek net daai belangrike deur kan begin uitmaak hoor ek daars reeds besigheid daar binne en ek sal moet wag. Na sowat 4.75 liter se wag sien ek die lang gedaante kom in die donker die gang af, ook seker op sy dae 'n bosvark-jagter gewees dat die oom so in die donker rondloop, dag ek, en ek maak my lyf klein en nog platter teen die muur net anderkant een van die kamer deure, meenende dat die donkerloper maklik sal verby. Boeta! daai lang oom kom loop vir my raak daar in die nag in die gang teen daai muur. En ek weet nie waar hy daai vis gekry het nie, maar hy slat vir my so slap klap teen my been met ek skat so 3kg kabbeljou. En hy skrik. "B@$##***m, jou D#???+##r, wat sluip jy so in die donker rond?!" Maar voor hy mooi klaar gepraat was toe is ek mos al omgedraai en by die buitedeur uit!