Tuesday, October 6, 2009

Vol week

Ek wou die staaltjie van die vorige pos apart vertel. Dit het regtig gebeur, ek het net so woord of twee bygesit... Dit het my weereens die noodsaaklikheid van humor laat besef. Die afgelope week was vol kuier. Eers my skoon ouers, toe my ma, toe my broer en sy vrou. Ons het omtrent lekker gesels. En tussenin nog die braai saam met die plaas se mense. Wat 'n fees was dit nie, heerlik! Die weer was ook genadig en dit was 'n kortmou aand. En dan nog die groot genade van die lekker reen daar by die huis op die plaas. Hier plant die manne aartapples en mielies en die koring staan blougroen teen die bruin agtergrond afgeets.

Al 4 as u blief dokter

Daar is twee soorte mense wie tegelyk baie snaaks baie onvoorspelbaar en ook potensieel gevaarlik kan wees. Dis nou die ouens wie kies om onder die invloed van iets te wees en dan natuurlik die wie deur mediese redes so gemaak raak. Ek is seker dat die meeste van ons al so iets gesien of ervaar het. Nou die aand vertel ‘n oom van sy moontlik aanstaande onmoontlike skoonseun se wedervaring.

Hy is ‘n jong predikant en die fondse vir baie prosedures is ok seker nie daar nie. Sy verstand tande moet verwyder word en hy besluit toe die tandarts moet almal gelyk vat…Na my meening ‘n brawe man, want met al vier van daais gelyk uit lyk dit mos kompleet of jy vir jou gesig vir ‘n snelbouler loop staan en paaltjies hou het. Dan draai jy die linker wang en dan vir die volgende 6 balle draai jy die regter wang. Amper soos die Bybel leer.

Ewenwel, op die afgesproke datum is die mannetjie toe dag-teater toe en word sy “pre-meds’ ingejaa. Dis nou om te help met die doodspuit en aan slaap maak. Die suster maak hom op ‘n bed lê en vertel vir ‘n rukkie lank soet stories om hom bietjie te kalmeer en effe dop te hou – elke ou reageer mos anders op sulke chemiese stowwe. Dit lyk toe na ‘n rukkie vir haar of die pillietjie darem die mannetjie se draad so effe laat verslap en die frons van kommer op sy voorkop het ietwat verdof. Sy besluit om hom te los en met haar ander werk aan te gaan, daar is nog ‘n teater geval wat binnekort klaar gaan wees en dan moet sy gereed wees vir hulle.

Intussen raak ‘n deel van die jong predikant wakker. Hy wonder vir ‘n oomblik en voel toe met sy wys vinger in sy mond rond. Hy ontdek al vier die tande nog op hul plek. Met geen benul van tyd en ruimte besluit hy om die dokter te loop soek. Hy reken hy moet hom darem net herinner om die taak deeglik te doen. Hy dwaal strompel strompel by die deur uit en in ‘n gang af in ‘n onspesifieke rigting, kom by dubbel deure aan die ent van die gang en stoot met alby hande hard oop…Voor hom staan ‘n stuk of agt mense in groen met hul gesigte verberg agter teater maskers. Dit lyk vir hom twee van hulle is besig om in iemand se pens rond te krap met ‘n helse groot stel stadion ligte wat neerbrand op hul koppe. Hy sien te veel en voel hoe sy kop verdowwe, waai met sy arms en sê: “Onthou dokter, al vier moet uit asseblief!” Met dié is dit soos sy laaste asem, hy struikel vooroor en val ‘n trollie vol teater goeters dat ‘n simbale gegalm in die gang af gons…(en die ou op die tafel sy kop wou-wou optel om te kyk wie hom so ongeskik wakker maak.) – katastrofiese drama!

Die ou op die teater tafel het darem als oorleef en die jong predikant se tande is darem ook soos gevra verwyder, so het die oom ons belowe…