Kroes
So baie dinge om te doen, so baie gedagtes om te formuleer en so baie redenasies om te deel. So baie. En dikwels in die verlede smag ek na ‘n lewe van eenvoud. En hier het ek dit nou…’n lewe van eenvoud. Skielik is daar so baie gewaarwording omtrent myself en ook ander mense en meer onlangs weer die besef van doel, rede…die besef dat ‘n mens bitter min met jou eie omstandighede se oorsaak te doen het. Die besef dat alles perfek inmekaar pas, gegewe ‘n spesifieke tyd. Nie jou eie tyd nie. En dan ‘n terugblik oor my eie hardkoppigheid, die besef dat vorentoe eers kan gebeur as ek die nou se uitdaging aanvaar en slaag. Ook die besef dat die vorentoe nie noodwendig makliker sal wees nie.
‘n Smeltkroes is nie ‘n speelplek nie. Ja, dis mooi so op ‘n afstand. Die vonke, die gesmelte metaal wat spat en ontplof, die kleure spel van lig. Passop! Dis hel warm en dis uitputtend om daar te werk, te wees. Jy sweet, jy brand, jou lyf is seer en dit maak jou moeg. Ja die lewe is ‘n smeltkroes, maar suiwer metaal het meer waarde. Oor en oor die herhaaling van smelt, onsuiwerhede skei, uitgiet, verhard, afkoel, breek, smelt…
Dis my lewe, dis jou lewe tot ons suiwer geag word, ek nie deur jou nie en jy nie deur my nie sodat ons mekaar nooit oordeel nie.