Friday, September 25, 2009

Almal is bang!? (pos 123)

Dit is soos Yvette sê, almal is bang vir iets. Om te sê jy is nie bang nie, beteken nie noodwendig dat jy nie bang is nie, maar eerder dat jy jou vrees aanvaar…Of dalk meer korrek ook die bron van jou bang herken, erken en dit so aanvaar. Die “aanvaar” is vir my so goed soos die bang uit my lyf uit verwilder en in die gang af jaag. Om die uitdaging te aanvaar beteken wel nie dat jy nie bang is nie, jy is bang, maar jy kyk die bang en die oorsaak van jou bang vierkantig in die gesig en gee jou bes om tog voorentoe te gaan(deur te druk).

As jy dit nie doen nie wen die bang en dit bring in jou totale vrees wat jou lewenskrag tap en jou van angs kan laat sterf! Bang of nie bang nie, kom ons lewe so vol moontlik tot ons dae op is. Kom ons kyk verby bang, na iets anders, iets mooi. As jy sien jou maat se broek bewe, praat hom moed in. Gee versekering dat dit oraait is, moet nooit terg met die “ou banggat” rympie nie. Die beste is om ook te weet dat: Net soos jou eie dae getel is, is bang se tyd in jou lewe ook beperk.


Johann se stukkie
Die kolganse beter oppas! Kyk so pajama draende knap skut. Mooi ou seun. Jou bekruip en volharding het betaal. Om ‘n tarentaal met ‘n windbuks te dood in sy natuurlike omgewing en met jou rooi slaap klere aan is goeie bekruip en skiet werk!

Monday, September 21, 2009

Banggat

Ou bang gat ou bang gat!... Ek hoor dit asof dit gebeur het. Dit het ook seker, iewers toe ek klein was, soos met ons almal. Al verskil was, ek was nie bang nie!- ontkenning. Ek was ook bang, soos nou die dag. Ek hoes slym toe kom ek orent met ‘n snaakse gevoel. Die bang nie in my kop nie, maar in my lyf. Hoeveelkeer is ons nie al hierdeur nie en tog steeds die bang in my lyf. Praat net daaroor dan begin my bo-bene op-en-af spring. Dis hoe dit is as die bang in jou lyf is…Jy moet jou kop gebruik om die bang uit jou lyf uit, in die gang af, weg te boender. Jou kop en jou gesprekke met God. Lang worstel gesprekke. Lang woordlose gesprekke. Lang uitgerekte singende gesprekke, als stil in jou gedagtes. Soms ure aaneen.

Daag my uit asseblief, daag my uit vir die lewe! Lank terug was ek ‘n stoute klein bliksem. Vergewe my juffrou van Wyk. Sy was ‘n mooie juffrou. Ek was tien of elf toe die ander my daag om haar met ‘n stuk kers wat in my potlood sakkie was te gooi. Hoekom sal ek nie weet nie, maar ek het haar op my plaasseun manier gegooi…tussen die blaaie. Ek was amper geskors. Ek dink my ma moes gaan mooi praat by die skoolhoof. Ek het 6 gekry. Meer as die helfte van my ouderdom in jare en ek het al ses verdien. Bang was ek nie. Eers toe die Hoof my na die tyd troos het ek begin huil. Ek het op daardie punt bang geraak vir dit wat ek aangevang het. Maar met die uitdaag, nooit!?