Saturday, March 6, 2010

Terug skool toe

Teen Maandag die afgelope week het ek eers genoeg wiskunde hersiening gedoen en kon die gras sny voor ons Pretoria besoek. Die res van die week was mos klas toe. Dinsdag oggend by die Universiteit se hek hou ‘n man ‘n stuk papier met my naam op in die lug en vra of dit ek is. Hy wys ons toe waar ek reg teen die gebou kan stop, net ‘n paar tree van die ingang na waar ek lesings moes bywoon. Hierdie aksie het my baie tuis en op my gemak laat voel. Die toets was deeglik en het my dadelik gewys ek kon nog ‘n paar uur ingesit het. Die lesings was ‘n ervaring soos iets lank gelede, maar die uitdaging is anders en die bevrediging van elke klein suksessie groot. Die inhoud in beide van die vakke wat ek tans bywoon is breed en die vlak van detail begin telkens by eerste beginsels. My brein was in die laaste vier dae geskud soos ek nog nie veel ervaar het nie.
Ou begrippe lank vergeet en nuwe begrippe, oud vir ander, maar vir my so vars soos dou...


Monday, March 1, 2010

Om vry te wees


As ek moeg voel, vir alles
hierdie gejaag, hierdie leegheid
dan kom verf U met lig deur wolke
die mooiste sons ondergang
en trek daarmee my aandag...

Toe vriende my verlaat
en teen my gedraai het
kom die maan vol op en skyn sag
‘n silwer straal wat die pad deur
die donker tyd vir my wys.

Toe ek stukkend was oor pyn
‘n donker angs my siel wou gryp
en teen ‘n afgrond wegslinger
het die roep van oggend voëltjies,
helder fyn klokkies, my laat ontwaak.

Ek was amper oortuig, dit is my einde,
my dae verby, toe ek ‘n fluistering
gewaar – U self - die lewe!!
Met gebreekte liggaam en verwonde siel
kan ek nou hoog bo alles styg...

My gees is vry, gelukkig, dit jubbel
soos ‘n bergstroom oor ronde klippe,
ritsel soos die wind deur blare,
dartel soos lig wat weerkaats op
die water, sweef hoog, hoog, hoog bo die wolke...