Tuesday, October 11, 2016

Hierdie blog het behoort aan Gustav Odendaal.  Ons vier sy lewe 09 April 1973 - 03 Mei 2010.

Thursday, May 6, 2010

So sit ons toe saam op die stoepbankie en drink ons oggend koffie na ontbyt. Nog voor Gustav sy eerste slukkie kan vat lui sy selfoon. Dis Lizette – die oorplantingsko-ordineerder. “Hoe ver van die hospitaal is jy?” vra sy. Gustav sê so ‘n uur… Ons moet gou ry – daars longe wat goed lyk vir Gustav..

Ons spring op voel heel bewerig – gryp goed bymekaar om te kan ry. Toe ons op ‘n stadium saam by die kombuis ingang is gryp hy my en sê kom ons bid net. Ek is nog besig om my goed bymekaar te kry en wil graag gesig opsit toe druk hy al die bakkie se toeter dat ek moet kom.

Ek probeer sms’se deurkry na vele persone om te sê die tyd het gekom. Toe ek weer sien is ons by die hospitaal.

Willem en Wilma en die kinders kom om die groot oomblik met ons te deel.

13:00 word hy teater toe gestoot. Ons wuif vir ‘n laaste keer…

16:00 hardloop hulle daar in met ‘n blou koelboks…

Wag, Wag, Wag, Wag, Wag, Wag, Wag, Wag, Wag EN Ons WAG

Willem hulle moet ry dis 20:00. Dr. Cathy kom na my toe en ons gesels bietjie. Sy sê sy gaan probeer om in die teater in te kom.

‘n Hele ruk later kom sy uit – haar kleur is nie reg nie – oë rooi. Daar’s ‘n probleem… Longe goed en oorplanting lyk goed, maar…

Ek word warm en koud op dieselfde oomblik…

Teveel bloeding vir sy liggaam om te hanteer – bloedplaatjies word toegedien, maar daar begin ‘n bose kringloop…

Hulle veg tot 11:00 toe. Daarna swabs in sy borsholte toegewerk om bloeding te absorbeer te kyk of dit nie sal help nie, maar sy temperatuur daal te laag en hy moet gestabiliseer word in ICU.

Cathy reel vir my ‘n lê plek met kussing en duvet. Daar daag ‘n familie op met flesse tee – hulle pa het komplikasies met ‘n hartomleining. Hulle wag ook.. Ek kry soet tee met melk – en ek drink dit!!

Dr. Williams kom haal my en sê dit is ‘n groot probleem.. Hy kry my weg by die mense om op ‘n bed in stilte te gaan rus.

Onrustig – Alleen – Bang

Wat nou?

Hoop!

Bid!

Vroeg op – probeer iets uitvind. Wilma hulle kom ook om saam met my te waak. Reinette arriveer ook vroeg oggend. Daar is reeds baie gehuil…

Beraders – Nog bid – Nog hoop –

Cathy kom weer inloer – Probeer steeds hoop, want hy was weer in die teater en bloeding lyk minder..?

Hulle probeer alles…

Ek en my ousus gaan haal baadjies in die bakkie en gaan stap ‘n goeie ent buite om lug te kry.

Ons kom terug – kry ons asem terug – en toe kom Paul Williams om die draai…

Hy’s weg… Ons is verslae… Totaal

Ek gee die Dr. ‘n drukkie – sy oë is ook rooi.. Ons kry tee en dan yswater. Die berader kom.

Ek gaan kyk vir ‘n laaste keer na My mooi liefie, My skat, My engel…

Rus sag. Ons gaan jou mis My Liefling.

Monday, April 12, 2010

Hier kom die ape!...Nee, mense!!

Met groot versigtigheid wil ek hier loop.
Ek hoor die afgelope week baie gesprek in die media oor evolusie en die Bybel en hoe die twee bymekaar gebring word deur sommige en hoe ander weer heel afsydig staan en reken dis onmoontlik. Vir sommige is daar grys areas en vir ander net wit of swart. En in die middel staan Christen wetenskaplikes. Ek is ‘n leek. Ek het al die Bybel deur gelees en weer hier en daar en sommige stukke oor en oor en seker in my kort lewe meer as een keer daar deur. Ek lees van Hemelwesens wat kinders by mense gehad het – die sogenaamde “reuse”. Ek lees van Metusaleg wie 969 jaar oud geword het. Ek lees die skeppings verhaal van ses dae als gemaak en sewende dag gerus. Ek lees van 1000 jaar soos een dag en een dag soos ‘n duisend jaar, ek lees van Egipte – toe Egipte geheers het, die Babiloniese Ryk – toe hulle geheers het, die Romeine – toe hulle geheers het. En so tussen dit alles deur lees ek van ‘n volk en uit daai volk, wie ook geen goeie voorbeeld as volk was nie, lees ek van ‘n man, Jesus. As die slim ouens reg is was hy jonger as ek toe hy vermoor was. En bietjie verder lees ek van ‘n ou, Paulus. Hy skryf van ‘n dowwe beeld. En op verskeie ander plekke lees ek dat daar net een ware regverdige is. Ja, Noag was regverdiger as die ouens van sy tyd en Job het geglo hy is regverdig en Daniel was seker ook naby daaraan en Moses! God het hom sy vriend genoem, tot Moses se ander-ras huwelik oorgesien en hom eerder gestraf oor hy die klip geslaan het en nie gepraat het nie (Hy was ongehoorsaam.)...

Ek lees gereeld oor baie goed en ek lees ook o.a. van Gideon Joubert se groot gedagte, waar hy baie internationaal bekende wetenskaplikes van die afgelope 100 plus jaar se denke mooi in afrikaans raakvat, van die groot avontuur waarin Leon Rousseau nogal insiggewend gesels, van Hovind en sy vereenvoudigde teorie, van Louis Gigleo en nog ‘n paar ander ouens. Ek het ook eendag na Prof Slippers van die Bio-genetieka departement aan die Universiteit Pretoria geluister, ‘n man wie dit vir my klink, die balans gevind het tussen wetenskap en christenskap in sy eie lewe. Nou wil ek my eie mening waag, en dis WAAG met hoofletters, want onthou, ek is net ‘n leek.

Indien enige geloofs groep, dinominasie, wetenskaplike/s glo dat wat hulle glo(weet) in verband met alles wat bestaan ‘n 100% die enigste waarheid is, glo hulle net hulself...
Die Bybel is vir die mens gegee as riglyn vir die lewe op aarde en as openbaring van die een kern waarheid rondom ons redding tot ‘n ewige lewe deur ‘n liefdevolle, maar regverdige God se ingrype, nie om presies vir ons die detail van die werking van die skepping en al die kragte daarvan te verduidelik nie. Daardie kragte, hetsy fisies of biologies van aard, word wel genoem in die Bybel en dit is vir my genoeg bewys dat dit wel bestaan. Hoe sou die arme ouens van 2000 jaar gelede die relatiwiteids teorie snap, of die werking van mutasies op bio-molukulere vlak of die bio-genetieka, ek snap dit nou nog nie en ek dink ‘n hele paar ander ouens ook nie. Om te dink dat ons as mens die totale skepping en nie eers te praat van die ewige doel daarvan, kan saamvat in enige mens geborge gedagte of wetenskaplike geskrifte en dokumente sou sekerlik wees om vir ‘n lewende God aan bande te probeer lê, in te perk, tot ons vlak van verstaan. Ons gedagtes is waarlik nie Syne nie en ons kan nooit in hierdie bedeling alles verstaan of insien nie. En gelukkig weet Hy dit. Ek dink elke ou moet dit vir die self maklik maak. Die ouens wie weetgierig is, moet aanhou soek en vra en verduidelik wat hul vind en die ouens wie kwaad word oor die dinge en wal gooi en wetenskap as kettery afmaak, moet eerder stilwees en geduldig wag vir “eendag”. Daar staan tog dat ons nou slegs ‘n dowwe en raaiselagtige beeld sien, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is.

Thursday, March 25, 2010

a dedication

My friend may you find wings
to fly away to a land far from here
may you never look back and wish
that you were rather here, may you find
a place to rest your soul and may
you find that place soft and warm, a
cradle for your tired being

May your eyes never cry again
and may you see a view worth
waiting for and may your labors
not have been in vain
May you find a soothing song whispered
to the ears of your soul and may
you never again hunger in any way

May all your fears and pain be left
behind in this broken land and the place
you now reside be filled with love
and laughter all around and may you
never be in want of anything ever
again but find that you are now
cared for in a very special way.


dedicated to a friend who suffered from lung cancer 25/03/2010

Ek is...

Ek is...

My beker loop oor, of bly ek leeg
want daars steeds iets waarna ek
verlang ek het genoeg en tog
ontbreek daar ‘n belangrike deel

van my mens wees, help my
help my om volkome te word,
eendag te word soos ek behoort
te word soos my plan...iewers.

Lyk my plan na stof net stof
of is my plan blou, is daar
ook vir my ‘n plan soos daardie tent
‘n tent van seil en hout en goud

Of is ek self ‘n tent, waarvan
die seile styf span soos U wind
my vul, U asem deur my trek
As dit so is... hoe sal ek ooit hier

hier onder kan bly? Gee my vlerke
gee genade, ek gee myself...vul my

...vol tot oorlopens toe vol.

Sunday, March 21, 2010

Marlene op die lug...

Wel hier is ek ook nou amptelik teenwoordig op kakibosvlakte! Voel so bietjie soos om in iemand anders se kas te krap…, maar ek is darem genooi, so dan maak ek so!

Siende dat Gustav nou so bietjie meer tyd agter sy lessenaar spandeer… het ek mos nou bietjie meer tyd op my hande… So het ek vanaand besluit om maar resepte te “surf” op die net en die Rapport se web blad te scan vir enige belangrike nuus – het toe darem daar (by gebrek aan iets beters) ‘n resep gekry vir ‘n bros vis degie wat heerlik lyk op die prentjie.

Ek het gistraand weer die fliek Julie&Julia gekyk – een groot lekkerte – hulle praat in die bonus features dat die regie beskryf het dat die kosskote in die fliek “pornographic” moet wees – ek dink maw – dat dit jou mond moet laat water. Vir julle wat nie weet nie – dit gaan oor 2 vroue se passie vir kosmaak – gegrond op 2 ware verhale. Sommer lekker romanties ook – so in ons vrouens se kraal..

Gepraat van kraal… ons het darem nou weer beeste om die erf en hulle water is hier onder op die hoek van die heining, so ons kan hulle lekker dop hou saam met die oggend koffie in die bed. Dis ‘n klomp verse en 3 bulle – so dis heel interessant vir die uwe stadsjapie…

Verder lyk en voel die lug al meer na winter en dit skok nogal om te dink dat dit ons 3de winter hier sal wees!!! Nou voel mens soms om te vra – Wat is die Plan!? ‘What’s Happening’? Ewenwel – dis beslis een groot “roller coster ride” – baie “joy’s” maar soms “horrors”, maar ons bly hoop vol.. Baie om voor dankbaar te wees!

Tyd om die ketel te gaan aansit... Hier's 'n foto van die student...Tot later. MO

Leerdery

More het ek 'n ou takie om in te handig, so my die brein werk nou oortyd aan al die berekeninge...

Saturday, March 13, 2010

“Khô-Es”

Daai plek, hulle skryf hom Koës...ek ken hom nie, maar was al daar. Vra vir manne soos Oom Ben en Oom Pieter, hulle kén hom. Met sy rooi duine, breë plat sand strate, Gemsbok en Springbok, Kalahari leeus die Auab “rivier”, bietjie oos. En sy mense. Dis hier naby waar ek 'n Colt amper leer vlieg het. Om “wildkamp” toe te ry met ‘n twee-liter-twee–wiel-trek mmm..., was ‘n ervaring. Eintlik is daai hele omgewing daar teen die Auab soos ‘n wildkamp (my eie mening). Dinge werk anders daar, vandag nog. Die winter son was warm en die bande te hard gepomp, verder was my durf baie meer as die beskikbare woema onder die Colt se enjinkap.

Daai eerste duintjie kort na die dubbel hek het my laat wonder...,maar ook gedaag vir iets groters en hoër. Oom Pieter se woorde draai nog in my kop: “Jy gee net genoeg vet en hou jou spoed, dan op die kruin van die duin moet jy so effe rem...” Bo-op die eerste klein duintjie na die dubbel hek stop ek. Die straat lê breed voor ons, seker 300m, die eerste van die grotes merk die einde van die eerste straat. Daarna is dit rooie op rooie op rooie, soos golwe in ‘n see van sand. Die Kalahari roep wild na my...

Ek steek die neus teen die duintjie af en die geklets op die agtersit is jolig en ego die ritme van die drawwende Colt oor die sand walletjies op die straat bodem. By die voet van die eerste rooi duin lig die bakkie se neus, ek voel hoe die sand die voertuig begin vas suig en hoe dit die krag van die enjin tap...Halfpad teen die duin op suig ons vas.

Ons kyk vir mekaar en glimlag wittande – hierdie kan lekker raak. Ek stoot terug teen die duin af tot halfpad terug na die klein duintjie en jaag die toere bietjie op. Toe ek die koppelaar los skop die bakkie ‘n klomp stof en sand op en ons beweeg skaars vorentoe. Ek hou die toere hoog en die spoed raak effe beter so dat teen die tyd dat ons die rooie weer ontmoet ons omtrent soos die eerste poging vaar, net effe swakker, want die sand is mos toe al bietjie los gekarring. Ons kyk weer vir mekaar, lag oop bek, en stoot al die pad terug tot die agterwiele effens op die eerste klein duintjie begin klim. Nou vat ek hom sommer met spoed. Die geselssery op die agter sit herinner aan daai rooi vinke in ‘n rietbos. Die bakkie se onderstel en suspensie kwetter saam soos ons oor die sand hobbeltjies blits.

Die Colt se voorwiele vat daai duin teen 90km/h, en ek voel hoe my strot in my maag insak. Op daardie selfde moment raak al die “vinke” doodstil. Voor my is dit net die mooiste blou lug. Ons vlieg! In die agtergrond dring die geskreeu van ‘n twee-liter op volketel deur tot my verstand. Toe ons bo deur die kruin van die trajek beweeg is my maag volspoed in tru-rat oppad om met strot, derms en nog wat by my mond te uit. Die bakkie se neus pyl af, die toere teller is steeds in die rooi, want my regter been weier om vir my enkel te sê hy kan maar ontspan. Die volgende oomblik ruk my gorrel weer styf toe die wiele sand vat omtrent twee tree voor die gelyk sand van die straat...
Dis of ‘n bom in die bakkie gebars het, party lag, praat gelyk en almal het na die draai in die kruin van ons trajek uit vollebors gegil. Die vinke is met mening terug toe die bakkie koers vat oppad na die tweede rooie...maar ouderdom en wysheid het gemaan om om te draai.

Monday, March 8, 2010

As ek soms nuus luister...

TUIS VERKRAG deur gjo

Jy lê steeds hier aan die onder punt
Een van die jongstes, een van die mooistes
Jou lyf ooglopend vol belofte, gereed
om vreugde te gee aan ‘n liefling...

maar jou oë vertel ‘n storie van pyn
die goedkoop “make-up” nie genoeg
om die snye en bloukolle weg te steek,
onder die pruik wys gebreekte haarpunte.

Die ingevoerde chineese rokkie
is heeltemal te kort en oral wys daar
kolle van hande wat gevat het, te hard en te veel.
Jou glimlag eens pragtig, maar nou, half tandloos...

Toe ek jonk was en jy ook jonger
het ek jou bemin, was ek verlief op jou mooi,
jou belofte. Ek was bereid om my lewe te gee
om jou te beskerm teen enigiets wat jou sou bedreig.

Enigiets, maar dit? Hoe sien mens dit kom?
Hoe keer jy die onkeerbare? Miljoene hande wat vat
en vat en vat en niks wil gee, tonge wat lek
en lippe wat sonder ophou suig en suig en suig...

My hart is gebreek oor jou, jou mooi wat geskend is
daardie belofte van vreugde word van jou gestroop.
Jy het die ergste oorgekom wat ‘n jongmeisie kan
my liefste, mooiste, mooiste stukkende een.

Jy word beroof, geskend, verkrag...deur vreemdes?
Nee! dis jou broers, susters, jou eie ma en pa...

Hoe kan ek jou troos, hoe kan ek jou regmaak?
Jou mooiste, mooiste “iNingizimu Afrika Borwa”,
Ons “beautifull, beautifull South Africa”
My mooiste, mooiste Suid Afrika!

Saturday, March 6, 2010

Terug skool toe

Teen Maandag die afgelope week het ek eers genoeg wiskunde hersiening gedoen en kon die gras sny voor ons Pretoria besoek. Die res van die week was mos klas toe. Dinsdag oggend by die Universiteit se hek hou ‘n man ‘n stuk papier met my naam op in die lug en vra of dit ek is. Hy wys ons toe waar ek reg teen die gebou kan stop, net ‘n paar tree van die ingang na waar ek lesings moes bywoon. Hierdie aksie het my baie tuis en op my gemak laat voel. Die toets was deeglik en het my dadelik gewys ek kon nog ‘n paar uur ingesit het. Die lesings was ‘n ervaring soos iets lank gelede, maar die uitdaging is anders en die bevrediging van elke klein suksessie groot. Die inhoud in beide van die vakke wat ek tans bywoon is breed en die vlak van detail begin telkens by eerste beginsels. My brein was in die laaste vier dae geskud soos ek nog nie veel ervaar het nie.
Ou begrippe lank vergeet en nuwe begrippe, oud vir ander, maar vir my so vars soos dou...


Monday, March 1, 2010

Om vry te wees


As ek moeg voel, vir alles
hierdie gejaag, hierdie leegheid
dan kom verf U met lig deur wolke
die mooiste sons ondergang
en trek daarmee my aandag...

Toe vriende my verlaat
en teen my gedraai het
kom die maan vol op en skyn sag
‘n silwer straal wat die pad deur
die donker tyd vir my wys.

Toe ek stukkend was oor pyn
‘n donker angs my siel wou gryp
en teen ‘n afgrond wegslinger
het die roep van oggend voëltjies,
helder fyn klokkies, my laat ontwaak.

Ek was amper oortuig, dit is my einde,
my dae verby, toe ek ‘n fluistering
gewaar – U self - die lewe!!
Met gebreekte liggaam en verwonde siel
kan ek nou hoog bo alles styg...

My gees is vry, gelukkig, dit jubbel
soos ‘n bergstroom oor ronde klippe,
ritsel soos die wind deur blare,
dartel soos lig wat weerkaats op
die water, sweef hoog, hoog, hoog bo die wolke...

Monday, February 22, 2010

Tom en Joe se blitz besoek

Dis nie Tom Jones nie, maar wel Tom, my swaer en ‘n vriend Joe. Eintlik is dit Oom Joe, want sy seuns is ouer as ek self! Ons het lekker saam onder die boom gekuier, en Holfontein mielies geëet. Saam met goeie wyn langs daai bosveld hout vuurtjie kon ons darem weer ‘n paar van die wêreld se gekompliseerde probleme help oplos…

Dankie vir jul kuier en interessante gesprek.

Tuesday, February 16, 2010

Groete uit Boesmanland en die Kalahari




Putsonderwater










Vyfbeker











Kameeldoring












Keimoes

Saturday, February 13, 2010

Meester





Gebuig-reguit

As iemand krom is,
sal dié wereld
van die Swartbergpas
hom reguit maak
en as hy reguit is
sal hy hier krom word…

Die Hel is woes
en leeg
en van god verlaat,
maar die pad soontoe
is nog erger.
‘n Bree weg
is dit
in die geval nie!

maar hier sal jy
nederigheid kom kry...