Thursday, May 6, 2010

So sit ons toe saam op die stoepbankie en drink ons oggend koffie na ontbyt. Nog voor Gustav sy eerste slukkie kan vat lui sy selfoon. Dis Lizette – die oorplantingsko-ordineerder. “Hoe ver van die hospitaal is jy?” vra sy. Gustav sê so ‘n uur… Ons moet gou ry – daars longe wat goed lyk vir Gustav..

Ons spring op voel heel bewerig – gryp goed bymekaar om te kan ry. Toe ons op ‘n stadium saam by die kombuis ingang is gryp hy my en sê kom ons bid net. Ek is nog besig om my goed bymekaar te kry en wil graag gesig opsit toe druk hy al die bakkie se toeter dat ek moet kom.

Ek probeer sms’se deurkry na vele persone om te sê die tyd het gekom. Toe ek weer sien is ons by die hospitaal.

Willem en Wilma en die kinders kom om die groot oomblik met ons te deel.

13:00 word hy teater toe gestoot. Ons wuif vir ‘n laaste keer…

16:00 hardloop hulle daar in met ‘n blou koelboks…

Wag, Wag, Wag, Wag, Wag, Wag, Wag, Wag, Wag EN Ons WAG

Willem hulle moet ry dis 20:00. Dr. Cathy kom na my toe en ons gesels bietjie. Sy sê sy gaan probeer om in die teater in te kom.

‘n Hele ruk later kom sy uit – haar kleur is nie reg nie – oë rooi. Daar’s ‘n probleem… Longe goed en oorplanting lyk goed, maar…

Ek word warm en koud op dieselfde oomblik…

Teveel bloeding vir sy liggaam om te hanteer – bloedplaatjies word toegedien, maar daar begin ‘n bose kringloop…

Hulle veg tot 11:00 toe. Daarna swabs in sy borsholte toegewerk om bloeding te absorbeer te kyk of dit nie sal help nie, maar sy temperatuur daal te laag en hy moet gestabiliseer word in ICU.

Cathy reel vir my ‘n lê plek met kussing en duvet. Daar daag ‘n familie op met flesse tee – hulle pa het komplikasies met ‘n hartomleining. Hulle wag ook.. Ek kry soet tee met melk – en ek drink dit!!

Dr. Williams kom haal my en sê dit is ‘n groot probleem.. Hy kry my weg by die mense om op ‘n bed in stilte te gaan rus.

Onrustig – Alleen – Bang

Wat nou?

Hoop!

Bid!

Vroeg op – probeer iets uitvind. Wilma hulle kom ook om saam met my te waak. Reinette arriveer ook vroeg oggend. Daar is reeds baie gehuil…

Beraders – Nog bid – Nog hoop –

Cathy kom weer inloer – Probeer steeds hoop, want hy was weer in die teater en bloeding lyk minder..?

Hulle probeer alles…

Ek en my ousus gaan haal baadjies in die bakkie en gaan stap ‘n goeie ent buite om lug te kry.

Ons kom terug – kry ons asem terug – en toe kom Paul Williams om die draai…

Hy’s weg… Ons is verslae… Totaal

Ek gee die Dr. ‘n drukkie – sy oë is ook rooi.. Ons kry tee en dan yswater. Die berader kom.

Ek gaan kyk vir ‘n laaste keer na My mooi liefie, My skat, My engel…

Rus sag. Ons gaan jou mis My Liefling.

2 Comments:

At May 7, 2010 at 3:14 PM , Blogger Alice Vogt said...

So mooi geskryf... dankie. My hart baie seer oor Gustav. Dink aan jou en die familie.

 
At May 13, 2010 at 1:17 PM , Blogger YvetteGgg said...

Jy is so sterk ou sussie.

Ja Gustav, ons gaan jou mis. Jy het baie se lewens aangeraak. Die dag toe ons hoor jy is hemel toe kon ek nie help om te dink....nou het ons 'n groot gees verloor uit ons midde.

 

Post a Comment

Subscribe to Post Comments [Atom]

<< Home