Genoeg
Ek onthou so baie keer wat ek dié stelling gehoor het: “Genoeg is genoeg” en dan volg iets soos “…tot hier toe en nie verder!” Ek het die laaste jaar of wat iets geleer omtrent “genoeg”.
Dikwels in my lewe wanneer ek gereken het dat ek genoeg van iets gehad het, moes ek my met nog ‘n paar daarvan vereenselwig. Eweneens, oor dít waarvan ek gereken het ek met nog daarvan sou kon doen, het ek, soos dit vereers blyk, genoeg van ontvang. Dit kom daarop neer dat ek mý lewe moes neersit. Ek moes leer om met ander oë en ‘n nuwe gesindheid na dit om my te kyk. Ek het geleer om al minder agtertoe te kyk en te konsentreer op wat ek nou hier by my vind.
Wat was die eerste klank wat ek vanoggend gehoor het toe ek wakker word? Wat het ek eerste gesien, wat was die eerste ding wat ek kon ruik? Met wie het ek eerste gekommunikeer vandag?
Ek moes leer om vrae aan myself te vra wat my help om te waardeer. Wat was vandag vir my besonder mooi, van dit wat ek geëet het, wat daarvan het ek regtig geniet?
Daar is moeiliker vrae wat soms deur my gedagtes werk, dinge waaroor ek weer op ‘n ander geleentheid kan gesels. Vir eers wil ek net die eenvoudige goed rustig laat talm. Dít geniet. Die mossies in die dak se geroep, die flou sonnetjie wat teen die kamer gordyn sy pad deur die koue skyn. Die reuk van my liefste se hare. Die stil woordlose gesprek met my Maker... So stukkie vir stukkie sal ek peusel en tydsaam kou aan die deel wat ek ontvang.
1 Comments:
welliswaar ja, welliswaar.
Post a Comment
Subscribe to Post Comments [Atom]
<< Home