5 Augustus 2009, my ma se verjaarsdag. Ek en Naas sit en werk deur ons jaar state vir die 2008/2009 belasting jaar. Ons was op die punt om klaar te maak toe ek badkamer toe gaan, toe ek in die badkamer my hande was gaan ‘n aartjie in my longe weer oop.
Ek maak dit gelukkig tot buite Linda en Lucien se huis voor die bloed by my mond uitstroom. “Dis weer so” was omtrent al wat ek uitkry. Op daardie stadium was ek net bly my liefste is by my, want dit het gevoel of dit die finale een sou wees. Die bloed het my amper laat stik en het in my keel en longe dik klonte gemaak. ‘n Kalmte het oor Marlene gekom en sy kon my bystaan. Een van die mooiste dinge vir my was hoe sy met teerheid die bloed met ‘n handoek van my mond en gesig afgevee het na die ergste verby was. Genadiglik het die bloeding weereens nie lank aangehou nie, maar ek het besef ek sou ‘n nood prosedure moes ondergaan om die are toe te maak. Ek het op die stadium redelik vaal daarna uitgesien. Die vorige bloeding van 23 Julie was nog vars in my geheue en die keer het ek nagenoeg drie eenhede bloed verloor. Ek het nie met die vorige bloeding ‘n bloedoortapping gehad nie en dit was dus teen die tyd baie nodig.
By St Domonics was ek in ICU opgeneem en vir teater voorberei, ‘n bloedoortapping is ook begin. My bloedsuurstof vlakke was nie te sleg nie, maar ek moes hard werk om dit daar te hou omdat daar nog baie gestolde bloed in my longe was wat oor die volgend paar dae sou uitwerk. Ek kon nie op my rug lê nie en was baie bly toe Dr Koonian, die radioloog, my meedeel dat dit nie ‘n groot probleem hoef te wees nie, so lank ek die durasie van die operasie teen ‘n helling van 45 grade op my bene sal kan staan/lê. Die tafel was toe getilt en die operasie gedoen. Ek dink ons was so na ‘n uur klaar. Die soort operasie is besonder omdat jy die hele tyd ten volle by jou bewuste is. Slegs lokale verdowing word in die lies gegee om die instrumente se ingang te verdoof. Ek kon die hele tyd met die dokter gesels en beskryf wat ek voel en waar hy werk. Op een stadium het die linkerkant van my gesig begin brand van die punt van my neus tot teen my linker oor. Ek vermoed dit het iets met ‘n senuwee tedoen gehad.
‘n groepie mense het tydens die gebeure in die hospitaal sitkamer vir Marlene en my ma bygestaan en ek wil julle almal bedank. Sonder julle gebede en daadwerklike teenwoordigheid en ondersteuning sou ding vir ons moeiliker gewees het. Op hierdie manier help julle dra aan ‘n las. Dankie ook vir almal wie my in die Hospitaal besoek het en sommer net kom kuier het of net by my kom sit het. Dankie.
0 Comments:
Post a Comment
Subscribe to Post Comments [Atom]
<< Home